© Copyright 2021 | Lourens Prokureurs

Website by | Virtual Web Solutions

Home ZADAR 2016 PROFIEL WERKSTERREINE HOFSAKE TAALREGTE DOKUMENTE KONTAK ONS
Home ZADAR 2016 PROFIEL WERKSTERREINE HOFSAKE TAALREGTE DOKUMENTE KONTAK ONS

Standpunte en rol van vriende en instansies

Share on Facebook Share on Twitter Share via e-mail Print
LYFSPREKE STANDPUNTE BLINDHEID FOTO ARGIEWE WIE IS CERNEELS LOURENS BRIEF BIOGRAPHY OF MR. CJA LOURENS

Setswana in Afrikaanse skole: skole moet die leiding neem.

GODSDIENSBESKOUING:

'n Kind van die Reformatoriese tradisie en poog om 'n praktiserende Christen te wees.  Die aanvaarding van alle kerke as verskillende blomme in God se blomtuin is een van die mooi beelde waarin ek in stryd met ‘n standpunt van kerkusme, sterk glo. Die negatiewe kritiek aangaande Calvinisme spruit gewoonlik voort uit die onkunde aangaande die onderwerp.

Aangaande die gebruik van die eed: Ek het op 2 November 2002 'n mosie suksesvol by die Prokureursorde van die Noordelike Provinsie gestel waarvolgens die staat versoek word om die eed in die regswese af te skaf en te vervang met die bevestiging wat gesanksioneer moet word met 'n straf, indien "myn eed" dit wil sê skending van die waarheid (weergawe onder bevestiging) gepleeg word.  Ede word myns insiens heeltemal te maklik afgelê.  Vir baie administratiewe handelinge word die eed onnodig vereis.  Sinkretisme word ook deur die nie-erkenning van God Drie Enig in die aflegging van die ede in die regswese, bevorder. My motivering vir die mosie volg hierna.

Motivering vir die mosie vir die afskaffing van die eed in die regswese.

In De Rebus September 1999 p9 tot p11 het ek reeds hierdie aspek aangeroer en het my oproep aan die LSSA op dowe ore geval. Voorgangers het reeds ook in die verlede hierdie aangeleentheid aangeroer waaronder mnr. H. Smit en daar is blykbaar reeds ‘n proefskrif beskikbaar wat hierdie gedagte ondersteun.

Ek is van mening dat die eed in totaliteit vervang moet word deur die bevestiging met die gepaardgaande strafregtelike misdryf van “meineed” wat ‘n naamsverandering kan ondergaan van bv. “aflê van ‘n valse verklaring”.

In praktyk kan ‘n voorsittende beampte ‘n getuie soos volg hanteer: “U word gemaan om slegs die waarheid te praat, niks anders as die waarheid nie. Sou dit blyk dat u na ondervraging nie die waarheid gepraat het nie, sal ek voortgaan om u skuldig te bevind aan die misdaad van die “aflê van ‘n valse verklaring” en kan u gevonnis word tot gemeenskapsdiens van 100 uur of enige straf wat toepaslik voorgeskryf mag word.  Verstaan en bevestig u voormelde?”

Die beëdigde verklarings vir bv. oordrag van eiendomme, alle gewone administratiewe verklarings, waarvoor die eed nou gebruik word, kan benewens die bevestiging ook deur middel van’ n sertifikaat gehanteer word. ‘n Sertifikaat is wanneer ‘n persoon, bv. ‘n prokureur, net sertifiseer dat die inhoud korrek is en behoef dit geen eed nie.

My primêre beweegrede is dat die huidige gebruik van die eed in die regswese neerkom op die misbruik van God Drie-Enig se Naam. Christus wys hierdie goedkoop gebruik van die eed af. Vergelyk Mattheus 5 vers 36 en 5 vers 37. Sien ook Jakobus 5 vers 12. Die eed raak dus die gebruik/misbruik van die Naam van God, ‘n Naam wat altyd met respek, eerbied, ontsag en aanbidding gebruik behoort te word.

‘n Ateïs, wat God nie ken of erken nie, kan nie sy Naam sinvol gebruik nie en misbruik dus sy Naam wanneer hy ‘n eed aflê. Die misbruik van God se Naam word in die Derde Gebod verbied.

Die vertaling van “So help me God” na “So help my God” is ook nie ‘n behoorlike vertaling nie. Dit behoort eerder “Mag God my help” te lui.  Die huidige gebruik van die eed lei tot sinkretisme en verloning van God Drie-Enig. Daar is immers net een God.

Hoeveel kommissarisse van ede beëdig verklarings as kommissarisse van ede werklik soos dit voorgeskryf word? Gaan maar net na ‘n polisiekantoor en kyk of hulle vra om u regterhand op te steek en te sê: “ So help my God”. Nee, hulle stempel maar net nadat u geteken het.

Ons het tans ‘n sekulêre staatsbestel. ‘n Baie goeie beginsel hiervan is die religieuse vryheid wat die Hugenote-agtergrond in ons ingegrif het.

Die eed kan dus gereserveer word vir uiters uitsonderlike omstandighede.

AFRIKAANS EN VEELTALIGHEID:

Die behoud van Afrikaans se hoë funksie as regstaal is my groot passie. Diegene, wat beweer dat daar nie 'n taalstryd is nie, is onkundig aangaande die gevaar wat daar bestaan vir Afrikaans om onder andere sy hoë funksie as regstaal te verloor. Daar word beweer dat Afrikaans 'n struikelblok in die transformasie van die howe is.  Die vermindering van Afrikaanse Universiteite veroorsaak ook 'n bedreiging vir Afrikaans as regsakademiese taal. Die gewone uitgewers van regsboeke weier om Afrikaanse regsboeke tans uit te gee.  Die prokureurstydskrif,  De Rebus,  het 'n beleid van net Engels aanvaar. ‘n Volledige standpunt blyk uit my hofaansoek en ook die aanhangsels daartoe wat my taalaktivisme van die afgelope sowat 15 jaar dokumenteer.

VOËL- EN BOOMMOORD:

Die doodskiet van voëls het redelik afgeneem sedert die publikasie van die Sasol Voëlgids en ander voëlkyk klub aktiwiteite.  Ek dink toe God voëls geskape het, het Hy hulle nie net mooi gemaak vir die wat sien nie, maar Hy het ook die blinde ingedagte gehad met hulle mooi sang.

Bome word egter nog veral in dorpe en op plase, ongeag die ouderdom, net afgekap of beskadig.

TELEURSTELLINGS:

Op 15 Augustus 1985 het ek die voorsitterskap van die SSR met net 23 stemme verloor.  Dit was 'n groot teleurstelling.  In my eerstejaar het Dr. Corné Mulder met 22 stemme verloor.  Ek het nie aktief georganiseer nie en as ek dit gedoen het sou ek dit waarskynlik gemaak het. My steun is deur die driehoekige ander party verdeel.  Wat ek daaruit geleer het, is dat ek, wanneer ek iets aanpak, deeglike voorbereiding moet doen en dit met oorgawe en met alle beskikbare middele moet onderneem of dit los.

‘n Ander groot teleurstelling was toe Noord-Transvaal teen Natal in 1990 die Curriebeker verloor het. Dit het my ‘n week geneem om daaroor te kom.

Voorts was ek baie teleurgesteld toe Clive Rice in 1992 nie gekies was as lid van die Wêreld Krieketspan nie.   As hy gekies was, glo ek nog vandag dat ons sou gewen het. Hy het immers sy lewe vir die binnelandse krieket gegee en is toe die voorreg ontsê.

'n Ander teleurstelling was toe Allan Donald se nie dophou van Lance Klusener tydens die 1999 Wêreldbeker toernooi, ons die wedstryd teen Australië laat verloor het.

KWELLINGS

Die groot onderspeelde tragedie van die sterftes van mense aan vigs en die gebrek aan respek vir lewe en ander se goeie naam.  Die Sebukwe-benadering in die ANC en die gebrek aan die Lutuli-benadering.

VRIENDE:

Sonder my vriende, en ek het vriende uit verskillende sfere (ek kan nie al my vriende gelyktydig bymekaar sit nie want hulle gaan nie kan verstaan hoe kan hulle almal my vriende wees nie) en sonder hulle dink ek sou die lewe heeltemal kleurloos gewees het.  Mens moet vriende hê om jou deur die lewe te dra.  Toe ek blind geword het, was die ergste dat ek van my skoolvriende verwyder is weens die nuwe omstandighede.

INSTANSIES:

Die instansie, wat my waarskynlik die meeste ondersteun, is Bandhulp vir Blindes.  Ek het 'n geweldige leeslus en koop dan nuwe boeke en laat lees dit by Bandhulp.  Hulle het ook my baie tydens my studies ondersteun.  Pretoria Bandhulp vir Blindes is dus met al die vrywillige lesers aldaar, ingenieurs wat brûe oor my gestremdheid bou.  Die Grahamstad Biblioteek vir Blindes se kasset-biblioteek is ook ‘n groot bron van leesstof vir my waarvoor ek ook net die grootste waardering het. Moontlik moet hierdie instansies nog eendag ‘n Nobelprys ontvang.

Ek is die inisieerde-stigter van die Vereniging van Regslui vir Afrikaans en ek is van mening dat hierdie organisasie uiteindelik die rol van die Prokureursorde vir Afrikaanssprekende prokureurs gaan oorneem. Dit sal waarskynlik ook ontwikkel tot ‘n sambreel-organisasie, wat ook vir die Afrikaanssprekende advokatuur, regsakademici, regsadviseurs ens. benewens die prokureurs, sal beding.

Die Solidariteit Beweging gaan myns insiens onder die leierskap van mnr. Flip Buys dié enigste beduidende krag onder Afrikaners in die Suid-Afrikaanse samelewing, wat werklik ‘n verskil kan maak, word en is dit reeds in ‘n groot mate.