© Copyright 2021 | Lourens Prokureurs

Website by | Virtual Web Solutions

Home ZADAR 2016 PROFIEL WERKSTERREINE HOFSAKE TAALREGTE DOKUMENTE KONTAK ONS
Home ZADAR 2016 PROFIEL WERKSTERREINE HOFSAKE TAALREGTE DOKUMENTE KONTAK ONS

Wie is Cerneels Lourens?

Share on Facebook Share on Twitter Share via e-mail Print
LYFSPREKE STANDPUNTE BLINDHEID FOTO ARGIEWE WIE IS CERNEELS LOURENS BRIEF BIOGRAPHY OF MR. CJA LOURENS

CIRRICULUM VITAE VAN


CORNELUS JOHANNES ALEXANDER LOURENS




INLEIDING


Hier volg die lewensverloop van Cerneels Lourens. Twee gedagtelyne staan voorop:


onvoorwaardelik Christelik en onbeskaamd Afrikaans! Die hofprokureur van 25 jaar se hoogtepunte is sy troudag 7 Mei 1988 met Sarita Lourens, die geboorte van hulle seun Christiaan op 14 November 1990 en die hoogtepunt in sy regsloopbaan wat hy bereik met sy regstryd vir die afdwinging van taalregte.




FAMILIE


Gebore in Krugersdorp en as een van 5 kinders op ‘n plaas opgegroei tussen die Magalies- en Witwatersrandberge. Getroud op 7 Mei 1988 met die oud-Tukkie, Sarita Lourens, pastorale terapeut en het een seun, Christiaan Lourens, opgeleide fotograaf, maar tans werksaam as eiendomsbestuurder by Lourens Prokureurs.




GODSDIENS


Lidmaat van die Gereformeerde Kerk Brits en kind van die reformatoriese tradisie. Hoogtepunt was sy belydenisaflegging te GKSA Worcester op 20 Augustus 1978. Interessante plekke is besoek soos Calvyn se 500 Jubileum konferensie te Geneve, Julie 2009, Martin Luther se huis in Witteberg en die kerk asook Johannes Hus se monument waar hy op die brandstapel gesterf het.




SKOOLJARE:


LAERSKOOL HEKPOORT: 1968-1974


(een van die sogenaamde Milner-skole)


Akademies baie goed gevaar. Ontvang ‘n Rapportyerstoekennig vir Afrikaans in Standerd 5 (Graad 7). Graag deelgeneem aan sport, veral sokker vanaf Graad 4 tot Graad 7 en behou belangstelling daarin.


HoëR LANDBOUSKOOL BEKKER


Skool gegaan aan hierdie Landbouskool tot einde van Standerd 7 jaar. Het blind geword na ongeluk en het na Pionierskool in Worcester gegaan.




PIONIERSKOOL VIR GESIGGESTREMDES


Oktober 1977 - 1980: Standerd 8 tot Matriek


Lid van die leerlingraad.


Lid van toneel-, skaak- (wen André Brand trofee), nuusklub, debatsvereniging. Junior Rapportryers se redenaarskompetisie in 1980 gewen.


Het ook as blinde leerling WP atletiekkleure vir gestremdes in 60 meter en spiesgooi behaal.


Behaal in 1980 die hoogste punt in RSA vir Handelsreg in Matriekeindeksamen.




UNIVERSITEITSJARE


P.U vir C.H.O. : 1981 – 1985


B. Iirus met lof 1983.


Ontvang ook die Juta prys in 1982 vir die beste eerstejaar regstudent van die vorige jaar.


LLB 1984 – 1985


Ontvang toekenning vir beste LLB student: einde 1985


Skripsieonderwerp was: Die vermoënsregtelike gevolge by saamwonery as ‘n verskyningsvorm van de facto-samewoningsverhoudings.   (Behaal LLB met lof)  




STUDENTE LEWE


Eerste jaar, 1981, in bekende Uitspan koshuis en na sluiting daarvan sedert 1982 in Patria manskoshuis.


Tweede verteenwoordiger van Studente Parlement 1981 vir Uitspan koshuis.


Verkies op huiskomitee van Patria Augustus 1982. Die eerstejaarsbenaming van Plebs en die leuse van Patria, naamlik dulce et decorum est pro Patria mori is deur my voorgestel en is geïmplementeer.


1983 – 1984: Onder primarius van Patria manskoshuis.


Die onderste gang is na my vernoem:  'n Fort vir die karnaval van die koshuis het geheet : "Elke vark had sy ark" en toe maak die eerstejaars die gang, wat 'n naam moes kry, "Elke hol had sy mol" aangesien ek hulle baie geroer het.  Die gang staan bekend as "Molshol".  Dit was in 'n goeie gees en die gang staan blykbaar nog steeds so bekend.


Neem deel aan Universiteits-skaakkampioenskap en eindig 4de.


Vorm deel van die PUK-Redenaarskompetisie-span wat aan die Intervarsity Redenaarskompetisie met RAU in 1983 gehou is.


1984 - 1985: lid van die sentrale studente raad : portefeulje koshuissake:  ek hervorm die dames uittekenstelsel waarvolgens senior dames nie meer hoef in en uit te geteken het om in hulle koshuise te kom en uit te gaan nie.  Inisieer ondersoek na koeponstelsel vir koshuisetes.


1985: Rubicon-dag van Mnr. P.W. Botha : (15 Augustus 1985) Ek verloor algemene studente verkiesing vir SSR-voorsitter met 23 stemme, in 'n driehoekige stryd.  


  


REGSLOOPBAAN


Begin leerklerksap by Staatsprokureur in 1986 en word op 1 November 1988 toegelaat as prokureur.


Begin eie praktyk op 2 Oktober 1989 te Brits. Die missie van die firma is:  Om die nee van 'n kliënt te brug tot 'n ja en om saketransaksies suksesvol te realiseer. Gemiddeld sowat 18 personeellede.


As notaris toegelaat op 19 September 1991.


As transportbesorger toegelaat op 30 Julie 1996.


Behaal LLM in boedelbeplanning in 1997.


Dit is ‘n gestruktureerde meestersgraad in Boedelreg met ‘n skripsie onderwerp: Boedelsamesmelting as instrument by Boedelbeplanning.


Behaal gevorderde diploma in Arbeidsregmet lof te RAU op 23 Februarie 1996 en ontvang die Blakes-prys vir die beste student in die kursus.


2003: Doen Internasionale Politiek II en III vir nie-graaddoeleindes deur UNISA weens die groot belangstelling in die Internasionale politiek.


2005: Skryf in vir LLD by Universiteit van Johannesburg onder Prof. Hennie Strydom: die beskerming en afdwinging van taalregte in die RSA met bepaalde verwysing na Afrikaans en doen wye navorsing maar weens werksdrukte staak studie in 2007. Hierdie mislukking het egter die onderbou tot die kennis van taalregte gegee wat nuttig gebruik word in die litigasie prosesse om taalwetgewing en taalregte af te dwing.




BYDRAE TOT REGSONTWIKKELING:


Aangaande emosionele skok:


PC BARNARD / SANTAM BEPERK 1999 1 SA 202 (AA) Lees Dokument


Ontwikkel die regsbeginsels met betrekking tot emosionele skok in die Appélhof-saak: wat gevolg het op die gerapporteerde uitspraak PC Barnard / Santam Beperk 1997 (4) SA 1032 (TPA).




Aangaande kontraktueleregte:


H WOLMARANS / MINISTER OF LAND AFFAIRS / RURAL DEVELOPMENT AND LAND REFORM & OTHERS: SAAKNOMMER LCC150/09: Lees Dokument


Wen saak in Grondeisehof op 10 September 2009 waarin die Grondeise Hof vir die eerste keer die Staat gelas om kragtens ‘n koopkontrak van grond, wat deur middel van die Wet op Herstel van Grondregte, Wet 22 van 1994 aangekoop is, en waarkragtens die Staat nie presteer het nie, met rente en koste op ‘n spesiale skaal, te presteer.


Hierdie saak het toe die pad gebaan vir vele soortgelyke en aanverwante afdwingings-bevele teen die Staat.




Aangaande mora tore rente:


MAKOLA BELEGGINGS (PTY) LTD EN ‘N ANDER / MINISTER OF RURAL DEVELOPMENT AND LAND REFORM AND OTHERS: SAAK NO: 276/2011 [2012] ZASCA 21 (23 Maart 2012) Lees Dokument


In hierdie suksesvolle Appèlhof beslissing het ons die Minister van Grondsake gedwing om mora tore rente op die laat-betaling van kooppryse van plase, wat vir grondhervorming aangekoop is, te betaal.




BYDRAE TOT PROKUREURSPROFESSIE:


Daar is sowat 45 kandidaat-prokureurs en junior prokureurs deur my gedeeltelik of in geheel opgelei.


Mosievoorsteller te die jaarvergadering van die Prokureursorde van die Noordelike Provinsies op 2 November 2002 vir die afskaffing van die eed in die regswese om vervang te word met die bevestiging gesanksioneer te word deur strafregtelike oortreding van meineed wanneer leuenagtigheid bevind word. Die suksesvolle mosie het uiteindelik by die Departement van Justisie gesneuwel.


 


OPENBARE PRESTASIES


BYBELVASVRA 1987: Wen Radio Suid-Afrika (tans RSG) se landswye Bybelvasvra kompetisie met as prys ‘n reis na Israel.


1991 :


BYBELVASVRA 1994: Wen RSG se landswye Bybelvasvra kompetisie met as prys ‘n reis na Israel.


 


PLAASLIKE DEELNAME


Gedurende die negentiger jare voorsitter van die Brits Prokureursvereniging. Daartydens is ‘n voorlegging aan die Hoekster-Kommissie gedoen vir die insluiting van Brits Landdrosdistrik by die Noord Gautengse Provinsiale Afdeling van die Hoë Hof en is steeds die vereniging se verteenwoordiger met betrekking tot hierdie aspek. Brits is op 20 Augustus 2013 by die Noord-Wes Provinsiale Afdeling te Mahikeng ingelyf wat nou betwis gaan word.


Lid van die Brits AHI-Sakekamer.


 


ONTEIENING VAN MINERALE


As lid van die sub-komitee van die VRA was hy betrokke by die landswye bewusmaking en instel van die eise van beweerde onteiende mineraalreg houers. Hierdie eise is deur die toetssaak van Agri SA / Minister van Mineraal hulpbronne deur die Konstitusionele Hof op 18 April 2013 getorpideer.


 


TAALAKTIVISME:


Inisieerder-stigter van die Vereniging van Regslui vir Afrikaans, wat op 8 Junie 2002 te Pretoria gestig is, en was ‘n bestuurslid tot 8 Junie 2005.


 


Getuienis voor die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad:


Lê klagte by PAN-SAT in 2000 teen die Minister van Justisie, Mnr P Maduna, wat aangekondig het dat Engels as enigste hoftaal gebruik sou word. Getuig in Mei 2002 voor PAN-SAT wat lei tot PAN-SAT beslissing kragtens sub-artikel 11 (7) van Wet 59 van 1995, soos gewysig, no: 99 van 2002 gepubliseer op 29 November 2002 in die Staatskoerant No. 24121, wat die taalbeleid vir die Department van Justisie as ‘n eentalige beleid bevind het. Die aanbevelings van PAN-SAT is nog nie geïmplimenteer nie.


 


Slag van Sun City:


Mosievoorsteller op Algemene Jaarvergadering van die Prokureursorde van die Noordelike Provinsies op 2 November 2002 aangaande die opposisie tot die verengelsingsbeleid van die prokureurs-tydskrif, De Rebus. Die mosie is verloor, maar ons is gekomplimenteer op die on-emosionele wyse waarop die saak beredeneer is. Reeds hier het die Black Lawyers Association met Anglo-Afrikaanses saamgespan teen Afrikaans. Die grondwetlik-onsuiwere juridiese argument dat Afrikaanssprekendes veeltaligheid as rookskerm ter bevordering van Afrikaans gebruik, is hier al geopper.  


 


Taalsake


CJA LOURENS / PRESIDENT VAN DIE RSA & ANDERE: VERWYSING: 49807/2009 Lees Dokumente: Deel1, Deel2, Deel3, Deel4, Deel5, Deel6, Deel7, Deel8, Deel9, Deel10, Deel11


Bring hofaansoek teen die President van die RSA en andere ten einde nakoming van die Grondwetlike verpligting opgelê kragtens sub-artikel 6(4) saamgelees met item 21 (1) van skedule 6 van die Grondwet 1996 om die verpligte wetgewende en ander maatreëls, wat die Nasionale Regering reeds moes aanvaar, aft e dwing. Wen saak met die volgende bevel:


 


“Dit word verklaar dat die nasionale regering in versuim is om ingevolge artikel 6(4) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 deur wetgewende en ander maatreëls die nasionale regering se gebruik van amptelike tale te reël en te monitor.


 


Die Nasionale Minister van Kuns en Kultuur, Wetenskap en Tegnologie in haar hoedanigheid as die verantwoordelike lid van die uitvoerende gesag word gelas om die gemelde verpligting binne 2 jaar vanaf datum van hierdie bevel na te kom of toe te sien dat dit nagekom word.


 


Die derde respondent word gelas om die applikant se koste, insluitende die koste van twee advokate, te betaal.”


 


MINISTER VAN KUNS EN KULTUUR / CJA LOURENS: SAAK NO: 49807/2009 Lees Dokument


‘n Dringende aansoek is op 9 Maart 2012 deur die Minister gebring om ‘n ekstra 12 maande vir die finalisering van die GATW te bring, maar dit is geopponeer en na konsultasie met belanghebbendes, waaronder die ATR, is die saak geskik dat slegs ‘ n ekstra ses maande tot 15 September 2012 vir die Minister gegun word om alle wetgewende en ander maatreëls te finaliseer. Dit is ‘n bevel van die Hof op 14 Maart 2013 gemaak.


 


CJA LOURENS / MINISTER VAN JUSTISIE EN GRONDWETLIKE ONTWIKKELING: SAAK NO: 33653/2011 Lees Dokument


Op 23 April 2012 het die Noord Gautengse Provinsiale Afdeling van die Hoë hof die volgende ’n bevel van die hof gemaak nadat die Minister versuim het om die hierna-vermelde wetlike plig voor 4 Januarie 2005 na te kom. Die bevel lees:


 


1.  Die partye noteer dat die Respondent intussen toegesien het dat daar aan Artikel 31(2)(b) van die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie, Wet 4 van 2000, soos gewysig deur Wet 52 van 2002, voldoen is daarin dat die betrokke wetgewing,regulasies en vorms in al 11 (ELF) amptelike tale vertaal is en in alle Gelykheidshowe van die land in al 11 (ELF) amptelike tale beskikbaar gestel is en dat die Respondent toegesien het dat die betrokke dokumente ook op die Respondent se webtuiste geplaas word; en


 


2. Die Respondent sal die ooreengekome of getakseerde party-en-party koste van die aansoek betaal en vir doeleindes hiervan sal die Applikant se opstelwerk as prokureur deur die Takseermeester toegelaat word.”


 


CJA LOURENS / PRES J ZUMA: SAAK NO: 12130/2013 Lees Dokument


Nadat die Wet op Gebruik van Amptelike Tale op 1 Oktober 2012 deur President J Zuma onderteken is en op 2 Oktober 2012 in die Staatskoerant as Wet gepubliseer is, het hy gedraal om die inwerkingstredingsdatum te proklameer. ‘n Hofaansoek is teen President J Zuma op 2 April 2012 met sukses gebring om hom te dwing om die inwerkingstredingsdatum te proklameer. Hy het dit op 6 April 2013 geproklameer synde 2 Mei 2013. Op 7 Mei 2013 is ‘n bevel gemaak dat die kostes van die aansoek aan my betaal word.


 


Afdwinging van Premier se verpligting om Provinsiale Taalwetgewing te finaliseer”


Elke provinsie moet kragtens sub-artikel 6(4) van die Grondwet van 1996 ook taalwetgewende maatreëls promulgeer. Elke provinsie se hof het jurisduksie oor die Premier. Aanvanklik is die sewe provinsies, wat nog nie taalwetgewing het nie, aangemaan. Die Vrystaat, Noord-Kaap en Noord-Wes het nie bevredigend gereageer nie en hofaansoeke is gebring.


 


CJA LOURENS / PREMIER VAN DIE NOORD-KAAP: SAAK NO: 557/2013 Lees Dokument


Die saak is suksesvol afgehandel op 16 Augustus 2013 met die volgende bevel:


 


1. “Dat die Eerste Respondent versuim het om aan die gebiedende voorskrifte van Artikel 6(4) van die Grondwet, 1996, saamgelees met item 21(1) van skedule 6 van die Grondwet, 1996, te voldoen deur te versuim om die gebruik van die amptelike tale in die Noord Kaap Provinsie deur middel van wetgewende en ander maatreëls, binne ‘n redelike tyd te reël en te monitor;


 


2. Dat die Eerste Respondnt voor of op 28 Februarie 2014 wetgewende en ander maatreëls in plek te stel en te finaliseer om die gebruik deur die Noord Kaapse Provinsiale Administrasie van amptelike tale in wetgewing en in beleidstukke te reël en te monitor;




3. Dat die Eerste Respondent die koste van hierdie aansoek op ‘n skaal soos tussen party en party te betaal.”


 


CJA LOURENS / PREMIER VAN DIE VRYSTAAT: SAAK NO: 1267/2013 Lees Dokument


Die saak is uitgestel tot 7 November 2013 om die Premier geleentheid te gee om positiewe vordering met die aanvaarding van die Vrystaatse taalwetgewing te maak.


 


CJA LOURENS / PREMIER VAN NOORD-WES: SAAK NO: 525/2013 Lees Dokument


Hierdie saak word deur die Premier Noord-Wes geopponeer en die saak dien op 28 November 2013 in die Hoë hof te Mahikeng.


 


VAN GRAAN EN ANDERE / FINANSIËLE DIENSTERAAD: SAAK NO: 21229/2011 Lees Dokument


Nadat die Finansiële Diensteraad aangedui het dat regulatoriese eksamen slegs in Engels afgelê mag word, is die saak met sukses deur die my hanteer en die volgende is deur die Noord-Gautengse Provinsiale Afdeling van die Hoë hof op 25 Januarie 2012 genoteer:


 


Ouditeurseksamen


Die Afrikaanse Rekenmeesters Vereniging is bygestaan om die voorneme van die instituut van geoktooieerde rekenmeesters om hulle eksamen slegs in Engels vanaf 2014 af te lê, te opponeer. Daar is van die voorneme in April 2013 afstand gedoen, nadat hulle die opinie met aanhegting van die Van Graan-saak bekom het.


 


Hangende taalsake


CJA LOURENS / MINISTER VAN KUNS EN KULTUUR: SAAK NO: 49807/2009 Lees Dokument


In hierdie aansoek, wat steeds hangende is, word die volgende regshulp gevra aangesien die Wet op Amptelike Tale myns insiens nie voldoen aan die Wetlike voorskrifte nie. Die aansoek sal her-oorweeg word sodra die regulasies, wat reeds voor 15 September 2012 gefinaliseer moes wees, gepubliseer word. Die regshulp is:


1.“Dat die Gebruik van Amptelike Tale Wet, 2012, Wet 12 van 2012, nie voldoen aan die voorskrifte van subartikel 6(4) van die Grondwet, 1996 en die hofbevel van hierdie Agbare Hof van 16 Maart 2010 nie, en dat die Eerste Respondent gelas word om binne 6 (SES) maande vanaf datum van verlening van die bevel ’n wysigingswet van die Gebruik op Amptelike Tale Wet, 2012, en ook die ander maatreëls, soos vereis in subartikel 6(4) van die Grondwet, moet finaliseer en toesien dat gemelde wet binne gemelde 6 (SES) maande inwerking tree;


2. Die Eerste Respondent in minagting van die hofbevel van 16 Maart 2010, saamgelees met die bevel van 14 Maart 2012 is, en dat die Eerste Respondent nie toegesien het nie of nagelaat het om toe te sien dat die Nasionale Regering deur middel van wetgewende en/of ander maatreëls die gebruik van amptelike tale deur die Nasionale Regering te laat reël en monitor;


 


3. Die Eerste Respondent is in versuim met die hofbevel om wetgewende maatreëls, waaronder die regulasies, binne die Agbare Hof se voorgeskrewe afsnydatum van 15 September 2012 te finaliseer en is verder in versuim en/of het nagelaat om die ander maatreëls, waaronder taalbeleide, voor die spertyd van 15 September 2012 te finaliseer, gevolglik word ‘n lasbrief vir arres en gevangenissetting gemagtig.


 


3.1 Die voormelde lasbrief word opgeskort hangende die finalisering van die wysigings tot die Gebruik op Amptelike Tale Wet, 2012 en die inwerkingtreding daarvan asook minstens die taalbeleide wat die ongrondwetlikheid moet aanspreek vir die tydperk van slegs 6 (SES) maande vanaf verlening van hierdie bevel; en


 


3.2 by gebreke waarvan die Applikant met net ‘n bevestigde / eedsverklaring voor ? Regter in kamers met ‘n lasbrief vir arres en gevangenissetting teen die Eerste Respondent kan voortgaan waarvolgens Eerste Respondent gearresteer en aangehou moet word totdat die voormelde bevel nagekom is. “


 


CJA LOURENS / SPEAKER VAN DIE NASIONALE VERGADERING; VOORSITTER VAN DIE RAAD OP PROVINSIES; MINISTER VAN KUNS EN KULTUUR: SAAK NO: EC08/2012 Lees Dokument


Hierdie is ‘n aansoek in die Gelykheidshof van die Wes Kaapse Hoë hof aangaande die vordering dat wetgewing in al 11 amptelike tale, gepubliseer moet word. Die vereiste is nie dat dit onmiddellik gedoen word nie, alternatiewelik dat die keuse van amptelike tale vir wetgewing op rasionele basis geneem moet word. Daar word beweer dat die praktyk om Engels plus ‘n ander amptelike taal, onbillike taaldiskriminasie daarstel. Die saak behoort aan die begin van 2014 verhoor te word.


 


Voorleggings


Skriftelike voorleggings en bydraes ten opsigte van die Taalwet is voorberei namens en ten behoewe van die LSSA, PAN-SAT en skriftelike kommentaar is ten aansien van die konsep regulasies gedoen.


 


Voordragte en seminare


Verskeie voordragte en bydraes by seminare en konferensies ten opsigte van taalregte ten aansien van die daarstelling van die Wet op die Gebruik van Amptelike tale, waaronder:


 


Die voordrag tydens die Afrikaanse Taalraad se Onderwys konferensie te KunsteKaap-teater, Kaapstad, op 28 Augustus 2010 met onderwerp: ‘N MITIESE DROOM: DIE TAALARTIKEL: ‘N GESPREK MET DIE GRONDWET IN DIE LIG VAN C.J.A. LOURENS vs PRESIDENT VAN DIE REPUBLIEK VAN SUID AFRIKA EN ANDERE; (Bevat erkennings aan die medewerkende Afrikaanse Intellektuele tot die taalsaak)


Die aanvaardingswoord van die Toon van der Heever prestige toekenning by die jaarverjadering van die VRA op 8 Oktober 2010: “ek is ‘n weieraar”. (Na die goeie voordrag van Adjunk-Regter President W van der Merwe oor die donker toestand van Afrikaans in die regswese, het ek geantwoord: “Ek is ‘n weieraar … ek weier om dit as ‘n onafwendbare finale oordeel oor Afrikaans in die regswese te aanvaar want ek het ‘n geloof aan die intellektuele kapasiteit van die Afrikaanse regsgemeenskap … kom ons wees almal weieraars!).


Die voordrag op 3 November 2010 van die twaalfde twee-jaarlikse Internationale konferensie van die International Academy of Linguistic Law gehou te Black Mountain, Thaba ‘Nchu met onderwerp: LANGUAGE RIGHTS IN THE CONSTITUTION: THE “UNBORN” LANGUAGE LEGISLATION OF SUB-SECTION 6(4) AND THE CONSEQUENCES OF THE DELAYED BIRTH, soos gepubliseer in die konferensie bundel op P269: “ Law, Language and Multilingual State”; (‘n Ontleding van die taalartikel in die Grondwet en wat in die Taalwet vervat behoort te wees).


Die voordrag voor die Parlementêre portefeule komitee van die Departement Kuns en Kultuur op 18 Januarie 2012 aangaande die toe voorgestelde GATW; (Ons het ‘n 11-sitplek taal-taxi verwag maar ‘n 2-sitplek bromponie ontvang…)


Die voordrag op 10 Desember 2012 te die dertiede twee-jaarlikse Internationale konferensie van die International Academy of Linguistic Law gehou te Chiang Mai Thailand met onderwerp: DENIAL OF LANGUAGE RIGHTS BY THE GOVERNMENT OF SOUTH AFRICA: CONSTITUTIONAL BREAKDOWN OR BREAK-UP BY THE PUBLIC?; (Die visie van ‘n groter Verenigde State van Suidelike Afrika waar taalregte nie deur koloniale grense bekamp word nie).


Die voordrag op 11 September 2013 te die 17de South Africa Education Law Association, te Glenburn Lodge, Muldersdrift, Johannesburg met onderwerp: THE NEED FOR AN INCLUSIVE SOUTHERN AFRICAN LEGAL APPROACH TOWARDS THE PROMOTION OF THE RIGHT TO MOTHER TONGUE EDUCATION. (‘n grondwetlik geïntigreerde tiende provinsie binne ‘n VSSA vir Afrikaans waarin Afrikaanse skole en -universiteite beskerm kan word en Afrikaans sprekendes volledig in die demokratiese bedeling kan deelneem).




TOEKENNINGS ONTVANG



‘n “sterre van die gemeenskap”-toekenning van Solidariteit vir voormelde taalsaak op 15 April 2010


Die Akroniem-toekenning van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans in 2010


‘n Afrikoon toekenning van die ATKV in September 2011


Die Vereniging van Regslui vir Afrikaans se Toon van der Heever toekenning op 8 Oktober 2010


 


GRANIET BEDRYF, GEDENKMUUR EN SAKE BEDRYWIGHEDE


Bevorderaar van die granietbedryf in Brits omgewing en instrumenteel om die aanslag deur die Brits Bankeveld Omgewingsforum met behulp van die 50/50 TV program om die granietbedryf in Brits Landdrosdistrik te kelder, te voorkom. Sodoende is talle werksgeleenthede gered. Tans ook steeds betrokke in granietbedryf.


Help om die gedenkmuur vir SAW-lede te die Voortrekkermonument, wat op 25 Oktober 2009 onthul is, daar te stel deur die granietbedryf in Brits te monster om die graniet vir die granietmuur met letterwerk, te skenk.


Bedrywig as eiendomsontwikkelaar en in die eiendomsbedryf.




BELANGSTELLINGS


Reise


Verskeie besoeke aan Europese state met bepaalde verwysing na sowat 9 besoeke aan Duitsland te midde van die liefde vir Duits en die kennis van die Duitse taal. (Vera look lief vir Weiss Brier. Voorts is musiekfeeste waaronder die Beethoven fees in Bonn, die Mozart 250 te Salzburg en die Bach 325 te Leipzig bygewoon. Besoeke aan Israel, Seychelles en Thailand is ook gebring.


Lees


Groot belangstelling in biografieë van polities- historiese figure, boeke aangaande bestuur en leierskap, Afrikaanse Digkuns (veral NP van Wyk Louw, Sheila Cousins en Breyten Breytenbach), geskiedenis en filosofie. Boeke word met behulp van bandhulp vir Blindes in die Grahamstad Biblioteek vir Blindes in kasset vorm gelees. Audio boeke ook baie behulpsaam.


Natuur


Kenner van die meeste bosveld-voëlklanke en gereelde besoeke aan die Kruger Nasionale Park en natuurgebiede.


Sport


Ondersteuner van Mamelodi Sundowns as plaaslike sokkerklub, van Schalke in die Duitse Sokkerliga en Barcelona in die Spaanse Laliga. Getroue Bloubul ondersteuner.


Musiek


Wye musieksmaak maar met klem op klassieke- en barok musiek. Groot liefhebber van orrelmusiek asook ‘n versamelaar van orrelmusiek. Groot voorliefde vir volksmusiek asook verskeie sangers, onder andere Louis Armstrong, Koos du Plessies ens.


Televisie


Kyk graag televisiekanale soos:  Die Deutsche Welle TV, Euronews en ader nuus kanale.


 


FISIEKE OEFENING


Oefen gereeld veral met ‘n oefenfiets. Stap graag. Glo ‘n gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees.




SLOT OPMERKING


Ek is dankbaar vir ‘n lewe met soveel skakerings en ervaringsvlakke te midde van aanvanklike negatiewe gebeure. Die feit dat ek my groot liefde vir vir die reg en geregtigheid kon uitleef en kon streef na ‘n billike regstelsel met bevoegde regslui waartoe almal toegang en respek moet hê onder die skadu van God se Genade. Een van my gunsteling leuses is: “In my streeftog na die perfekte, is ek telkens gepootjie deur die betreklike, maar met die Here se genade, met die vrou en vriende vir my gegee, is ek steeds strewend, dog vergenoeg!”