© Copyright 2021 | Lourens Prokureurs

Website by | Virtual Web Solutions

Home ZADAR 2016 PROFIEL WERKSTERREINE HOFSAKE TAALREGTE DOKUMENTE KONTAK ONS
Home ZADAR 2016 PROFIEL WERKSTERREINE HOFSAKE TAALREGTE DOKUMENTE KONTAK ONS

Blindheid as gestremdheid

Share on Facebook Share on Twitter Share via e-mail Print
LYFSPREKE STANDPUNTE BLINDHEID FOTO ARGIEWE WIE IS CERNEELS LOURENS BRIEF BIOGRAPHY OF MR. CJA LOURENS

Ek lewe so vol lewe dat ek eintlik nou en dan net herinner word daaraan dat ek blind is.  Ek dink nie bewustelik daaraan dat ek blind is nie.  'n Tyd terug het 'n kliënt ingekom en gevra hoekom ek 'n donker bril dra en of ek "arc eyes" het.  Ek kyk gewoonlik na die mense soos ek gesien het asof ek hulle in die oë kyk.


Daar is 'n verskil tussen om blind te word nadat jy vir 'n tyd gesien het en as jy blind gebore is.  Ek het bv. die Brits omgewing gesien voordat ek blind geword het aangesien ek net oorkant die Magaliesberge grootgeword het.  Ek weet bv. hoe lyk die Harterbeespoortdam.  Ek het in die Magaliesberg by Bokfontein berg geklim. Ek weet ook hoe lyk die ou stadsaal van Brits. As iemand dus iets verduidelik, weet ek hoe lyk dit min of meer.


Mense moet natuurlik onthou dat verskillende persone blindheid verskillend beleef.  Dit is 'n baie subjektiewe aangeleentheid.


Hoe hou ek my op datum? Ek het al die relevante hofverslae, en wetgewing op CD-rom beskikbaar.  My kandidaat-prokureurs trek spesifieke hofsake gewoonlik vir my.  Hulle lees dan die kern aspekte vir my deur wat ek nodig het. Verder woon ek baie regseminare by.  Ek laat ook vir my artikels uit regstydskrifte op band lees wat ek dan in die aande en oor naweke lees.  Die maandelikse prokureurs-tydskrif, De Rebus, is bv. op kasset by Bandhulp beskikbaar.


Ek het die rekenaartoerusting met die program, wat die skerm vir jou teruglees, maar omdat my ou stelsel so goed werk, gebruik ek dit nog nie. Daar is baie ander hulpmiddels.  Die rekenaar tegnologie met die teruglees fasiliteit maak die internet ook toeganklik. Tegnologie is dus aan die kant van die gestremde.  


Daar is 'n persepsie dat, wanneer jy blind is, jy ook nie baie slim is nie en dat jy ook moontlik nie kan hoor nie.  Dikwels sal 'n persoon, indien jy met iemand anders saamstap, nader om oor jou iets uit te vind sonder om jou direk te vra.


Die vraag ontstaan, hoe moet jy ‘n blinde persoon of ander gestremde benader. Die antwoord is gewoon, soos jy enige ander persoon sal benader.  Stap nader, hy/sy kan nie na jou toe stap nie en veral jou ook jou nie sien om nader te stap nie.   As jy hom/haar moet help, gee jou elmboog: moenie met jou hand aan sy/haar hand vat nie.


Ek het nie 'n gidshond nie en beplan ook nie een nie.  Iemand behoort nie met 'n gidshond in te meng nie, want wanneer hy sy baas lei, is hy eintlik besig om te werk.  Die Nando's TV-advertensie was vir my net so snaaks.  Ek is jammer hulle moes dit afhaal.  Die gidshond sou natuurlik nooit sy baas so teen 'n paal vas lei nie en dit was waarskynlik die rede hoekom hulle die advertensie moes verwyder.  


Onder rasse-groep bevind ek dat die swartmense meer geneig is om 'n blinde persoon normaal te behandel.  


Persepsies in die Bybel aangaande blinde persone is ook myns insiens verouderd.  Die feit dat Isak nie Jacob, toe laasgenoemde die seën op 'n bedrieglike wyse gaan bekom het, kon sien nie, kan hoegenaamd nie die enigste rede wees hoekom hy nie kon onderskei tussen Jacob en Esau nie.  Sowel sy gehoor as sy tas-sintuig moes geweldig ingekort gewees het.  Hy was waarskynlik 'n totale invalide.  Hoeveel preke het ek nie al gehoor wat hierdie verkeerde persepsie en die "arme blinde vader" wat bedrieg word, bepreek nie.  Die bedelaarsbeeld is ook 'n enkelbeeld wat dikwels gebruik word asof dit op elke blinde persoon van toepassing is.


Blindheid is egter dié sigbaarste gestremdheid.  Die meeste gestremdhede is nie sigbaar nie.  Mens moet onthou dat "blinde persone" nie 'n homogene groep is nie.  Dit is 'n deursnit van die hele samelewing van slim tot dom, van arm tot ryk, van enkel gestremd tot meervoudig gestremd, en mense behoort te individualiseer.  


VRAE WAT EK AS BLINDE AL MOES BEANTWOORD:


Sou jy eerder kies om doof te wees as blind? Nee, as jy doof is, is jy ook hoofsaaklik, nie heeltemal nie, van die buite wêreld en die normale kommunikasie middele uitgesluit.


Pla dit jou nie om nie te kan bestuur nie?  Ek het toegang tot vervoer net wanneer en waar ek wil.  Daarom pla dit my nie.  Ek dink ook nie daaraan nie. Dus pla dit my glad nie. Dit sal waarskynlik ander blinde persone pla wat nie so vrye toegang tot vervoer het nie.


Hoe is dit om nie jou eie kind te kan sien nie? Ek beleef my kind op my manier.  Van beskrywings weet ek min of meer hoe hy lyk. Dit is genoeg.


Sou jy 'n ander beroep gekies het as jy gesien het? Gelukkig wou ek, toe ek nog gesien het, alreeds 'n prokureur word, en het ek dit kon word waarvoor ek baie dankbaar is.


Is daar kere wat jy iets graag sou wou sien? Ja, soms, bv. in die Wildtuin 'n spesifieke dier of gesig, bv. 'n vangs, waarop die ander ook dan fokus.  Tydens my oorsese reise, is indrukwekkende geboue en ander toneel, bv. die sneeu bedekte  Alpe, iets wat ek graag sou wou sien.  My voorreg om egter daar te wees, en beskrywings daarvan te hoor en die omstandighede te beleef, te midde van miljarde mense wat nie die geleentheid het nie, maak my egter dan vergenoeg: wat 'n voorreg. Die teenwoordig wees by plekke het tot gevolg dat 'n werklikheidsbesef gekry word.  Ek het bv. op Stalin se stoel gesit waar die Potsdam-konferensie gehou is.


Hoe droom jy?  Kort nadat ek blind geword het, het ek soos gewoon gedroom. Later het daar integrasie plaasgevind tussen abstrakte en gewone drome.  Ek het bv. my ou skool se geboue in my droom met my voorstelling van die nuwe skool se geboue geïntegreer.  Persone, wat ek nie voorheen gesien het nie, "sien ek in my gedagtes", so ook in drome, soos ek hulle hoor.  Deur hulle stem skilder hulle 'n persoonlikheidsprofiel oftewel 'n beeld. Ek hoor die persoon, ek weet nie hoe hy lyk nie, maar ek hoor hom, sy karakter, sy woord gebruik, sy intellek, sy glimlag of sy morbiede toon in sy stem.  So skep hy/sy 'n individuele beeld van identifikasie. In 'n droom is dit hoe die persoon figureer.


Hoe vind ek mense se verduidelikings of beskrywings? Die enkelvoudige verduideliking is dikwels 'n probleem. Iemand sal sê kyk die mooi roos.  Ek sal dan bv. vra hoe kleur die rose is en dan dink aan rose wat ek gesien het van dieselfde kleur. Wat belangrik is, is dat jy nie aan die konteks of die dekor dink nie want dit is nie gemeld nie.  Jy kan jou in elk geval dit nie indink nie.  Jy sien dus 'n roos in jou gedagte, nie die roosboom, die pot onder, of die blomme daar rondom nie, tensy dit ook aan jou gemeld is. Jy kry dus net die enkel perspektief.  Ek vra dikwels vir meer besonderhede, bv. watter kleur, watter tipe pienk, ens.


Hoe het jy studeer? Braille is onprakties vir tersiêre studie.  Daar is eenvoudig te veel stof om na te gaan en dit is 'n stadige medium. Om die Bybel as bekende voorbeeld te gebruik:  dit is in 38 boekdele van ongeveer 30cm by 20cm by 3,5cm opgedeel.  Dit is in verkorte braille, soos "short hand".


Ek het met kassette studeer.  Soms gaan ek die vorige jaar na die professors toe en vra watter boeke voorgeskryf gaan word.  Jy skaf dit dan aan en laat dan vir jou op kasset lees.  Te midde van die feit dat die reg, 'n dinamiese veld is, en daar deurlopend nuwe artikels en nuwe hofsake gepubliseer en gerapporteer word, moet jy deurlopend sodanige inligting op kasset kry.  Hierdie administrasie las, wat addisioneel op my was, het nogal uitputtend gewees.  Ek verdien eintlik 'n ekstra graad in administrasie! Ek het my geheue aangepas dat ek hoofsaaklik die studie materiaal net eenmaal deur moes lees.  Daar is gewoonlik nie tyd om dit meer as een keer deur te kon lees nie.  'n Vriend het dan bv. 2 of 3 ure voor die eksamen na my gekom en dan het hy hoofpunte vir my voorgelees.  Die boeke word gelees met vermelding van die bladsy nommers en dan kon ek min of meer sê waar die spesifieke gedeeltes is wat ek net vinnig wou oorgaan.  Dit het hom natuurlik ook gehelp. Tussen my letterlik honderde kassette, het daar soms een op 'n kritieke tydstip voor die eksamen weggeraak.  Meestal het ek nie vrae oor daardie kasset gekry nie.


Hoe skryf jy eksamen?  Die dag voor die tyd neem jy 'n kasset en kasset masjien na die eksamen afdeling.  Hulle lees dan die vraestel op kasset. Jy neem jou eie gewone tikmasjien (jy kan nie teruglees wat jy getik het nie) en sit in 'n aparte lokaal.  Jy luister dan die vrae en tik die antwoorde.  In my vierde jaar, het ek gevorderde erfreg geskryf.  Die toesighouer het nie gereeld na my toe gekom nie.  Toe die professor die antwoordstel aan die einde kom haal het, het hy gesien dat my tiklint vasgehaak het en was van die 2de bladsy af niks leesbaar nie.  Die professor het my toe genadig gewees en onmiddellik 'n mondeling gegee wat omtrent 2 ure geduur het.  Ek het dus 'n 5 ure vraestel geskryf.  Dit was waarskynlik tot my voordeel want jy kan meer sê as skryf en het ek ‘n baie goeie onderskeiding gekry.


Wat is die oorwegende invloed van jou blindheid? Ek is 'n perfeksionis:  blindheid relatifeer egter enige poging tot perfektheid.  Ek het in die eerste 16 jaar van my lewe gesien.  Ek het toe 'n tweede lewe, waar ek nie sien nie, en ek is oppad na die een waar ek weer gaan sien: die lewe hier is net tydelik.


Watter rol speel digkuns in jou lewe? Die beskrywings van digters is so goed dat ek deur hulle beskrywings goed kan visualiseer:  ek sien deur hulle oë met hulle woorde en skitterende beskrywings.


Watse advies kan jy gee vir mense wat bedruk is? Neem die lewe dag vir dag en in die dag uur vir uur.  Gaan maak 'n draai in 'n hospitaal, gevangenis of te huis van bv. kwadrupleë.  Kyk na die honger mense, die mense met kanker of vigs en tel jou seëninge en wees vergenoeg!  Laasgenoemde is die grootste bron woord wat bestaan.  Natuurlik het voormelde alles tot onderbou die toewyding aan God: Lees jou Bybel, bid en gaan gereeld kerk toe.